Deputate
Meerdere vergaderings verdaag wanneer die agenda afgehandel is, maar gee aan persone opdrag om as deputate, namens die kerke wat vergader het, verdere aandag aan ʼn bepaalde saak te gee en aan die volgende vergadering verslag te doen. Die basiese opdrag van die Sendingdeputate van die Algemene Sinode word in die Sendingorde vervat.
DS. J du P Aucamp
Sendeling TOPIA bediening
DS. RB Fourie
Sendeling JUST GO bediening
Ds. HN Nkoana
Predikant van GK Ramotse
Dr.W Chipenyu
Rektor Dumisani Theological College
Br. AM van der Kruk
Sendingwerker Crossroads Prison Ministries
BR. JR VENTER
Ouderling GK Daspoort
Sendingorde
Christus is die groot Sender van sy kerk om die goeie nuus van die evangelie aan al die nasies oor die hele wêreld te verkondig. Sending is dus deel van die wese van sy kerk en daarom wil kerke en lidmate van die GKSA aan die opdrag van hul Sender gehoorsaam wees.
Die Sendingorde is daargestel vir die aktivering van die lidmate en gemeentes van die GKSA in hul uitvoering van die Groot Opdrag (Mt 28), asook die strukturering en koördinering van die sendingwerk en alle meegaande aktiwiteite in die kerkverband.
Die Sendingorde gee Ieiding aan die kerke rakende terme en prosedures betreffende die uitvoering die sendingtaak, sodat eenvormigheid en eensgesindheid bevorder kan word.
Laai die Sendingorde dokument af. ** ! Klik hier ! **
Sending begin met die Drie-enige God in sy ewige raadsplan (Ef 1). Na die sondeval het God die sondaarmens opgesoek (Gen 3:7) en Hy het ‘n volk gevorm om deel van sy sending te wees (Gen 12:1-3). Hierdie Ou Testamentiese sendingfokus word in die Nuwe Testament bevestig. Die Here Jesus het self aan sy kerk die sendingopdrag gegee (Matt 28:18-20).
Naas die liefdesgebod is die opdrag tot sendingwerk dus deel van die wese van die kerk. Die kerk wat nie sendingwerk doen nie is ongehoorsaam aan die Here. Sendingwerk word nie gedoen met die primêre doel om die getalle van die kerk te vermeerder nie, maar om gehoorsaam te wees aan die opdrag van ons Here, om die Evangelie na al die nasies te neem.
Sending is afgelei van die woord apostello wat “stuur” beteken (Joh 20:21). Sending omvat die kerk se totale gerigtheid na buite, met ander woorde nie net die uitdra van die Evangelie met woorde nie, maar ook dade van liefde en barmhartigheid waarmee die verkondiging van God se liefde en barmhartigheid met konkrete dade bevestig word (vgl Matt 5:13-16; 44-47).
Ons beklemtoon die noodsaak vir alle Christene om in tye van armoede, siekte, epidemies en alle vorme van onreg teenoor mense, hulle te beklee met die liefde van Christus.
Evangelisering (euangelizo) beteken om die Goeie Boodskap aangaande Jesus Christus, o.a. sy lyding, dood en opstanding, te verkondig (vgl Hand 4:2; 8:35; 17:3).
Kortliks saamgevat kan ons dit so stel: “Sending” is die totale gerigtheid van die kerk na buite, deur Woord- en daadverkondiging. “Evangelisering” is die sentrale element van hierdie gerigtheid na buite, naamlik die verkondiging van die Evangelie. Omdat evangelisering die kern van sending is en by sending inbegrepe is, word die woord sending in hierdie Sendingorde gebruik.
Die doel van sendingwerk is om deel van God se ewige raadsplan van vrede te wees. Sending is in die eerste plek God se aktiwiteit. Hy bring die Evangelie aan mense wat verlore is, sodat God deur hulle verheerlik kan word.
Verder is die doel om nuwe kerke te plant. As dit vir ‘n “sturende kerk/ gemeente” duidelik word dat daar genoeg lede is, asook lede met die gawes om ouderlinge en diakens te wees, moet hulle aangemoedig word om ‘n kerk/gemeente te vorm.
Terwyl die gemeente tot stand kom, is die nuwe gelowiges deel van die sturende kerk/gemeente. Die bediening van sakramente geskied onder toesig van die sturende kerk/gemeente.
Dit is God wat stuur en die sturende kerk bepaal die sendingopdrag van ‘n sendeling, met of sonder die samewerking van ander kerke.
Indien nodig, kan die Sendingdeputate vir advies genader word. Die duidelik omskrewe sendingopdrag word in die beroepsbrief uiteengesit. Indien dit nodig raak om die sendingopdrag te verander, word dit op advies van die Klassis gedoen, volgens KO, artt 7, 10 en 11.
Sendingwerkers moet ook uitgestuur word met ‘n duidelik omskrewe sendingopdrag, tesame met advies van die Klassis indien nodig.
Sendelinge is bedienaars van die Woord wat volgens die bepalings van die Kerkorde deur die plaaslike kerk (of ‘n kombinasie van plaaslike kerke) uitgestuur word en met die bepaalde Formulier vir die Bevestiging van Sendelinge bevestig word. Die roeping/ beroeping en uitstuur geskied met of sonder die samewerking van ander kerke, en op advies van die Klassis.
Laai die volledige bevestigingsformulier af. ** ! Klik hier ! **
Laai die verkorte bevestigingsformulier af. ** ! Klik hier ! **
Sendingwerkers is betrokke by georganiseerde sendingwerk (voltyds of deeltyds) en kan ‘n vergoeding vir hul werk ontvang. Hulle word nie as predikante van die Woord volgens artikels 3-12 van die kerkorde georden nie en word aldan nie as sendelinge gestuur nie. Hulle kan as ouderlinge of diakens volgens artikels 22-27 van die kerkorde georden word. Sulke sendingwerkers val onder die toesig van ‘n plaaslike kerk en hul vergoeding kan in samewerking met ander kerke gereël word.
Sendingwerk word onderneem met inagneming van kerkverbande met wie die GKSA ekumeniese bande het.
Indien sendingwerk in samewerking met ander kerke en kerkverbande onderneem word, word dit gedoen volgens die advies van die Sendingdeputate asook die
Deputate vir Ekumeniese Sake (binnelands of buitelands). Die nodige dokumentasie wat die verpligtinge van die verskillende partye bevat, moet gereed wees, geteken wees en in bewaring gehou word.
As ‘n gemeente, kerkverband of sendingorganisasie wat saam met die GKSA-gemeentes wil werk, hulp of advies met sendingwerk in ‘n spesifieke area benodig, kontak hulle die Sendingdeputate.
Nuwe kerke word volgens die bepalings van die Kerkorde gestig. Indien nuwe kerke wat tot stand gekom het nog nie in ‘n eie kerkverband georganiseer is nie, vorm daardie kerke deel van die Gereformeerde Kerke in Suid- Afrika, totdat die nuwe kerkverband gevestig is.
Sturende kerke moet toesien dat sendelinge en sendingwerkers die nodige opleiding ondergaan, volgens advies van die Sendingdeputate en die Teologiese Skool.
Die versorging van sendelinge en sendingwerkers, en ander kostes vir sending, bly die verantwoordelikheid van die sturende kerk(e). Kerke kan vir sustentasie aansoek doen vir die versorging van sendelinge.
Eiendomme wat in die sendingveld bekom is behoort aan die sturende kerke, maar behoort binne ʼn redelike tyd aan die nuutgestigte kerk oorgedra te word.
12.1 Aanwys van Deputate
Die Algemene Sinode wys 5 Deputate met 2 adviseurs aan.
12.2 Koördinering
Die Sendingdeputate koördineer alle sendingwerk binne die GKSA, sodat onnodige duplisering voorkom kan word. Skakeling met kerkverbande met wie die GKSA ekumeniese bande het, word deur die Sendingdeputate in samewerking met die deputate vir Ekumeniese Sake gedoen. Sendingwerk wat onderneem word in samewerking met kerkverbande met wie die GKSA nie ekumeniese bande het nie,
word gedoen op advies van die Sendingdeputate asook die Deputate vir Ekumeniese Sake (binnelands of buitelands).
12.3 Sendingkantoor
Die Sendingdeputate vestig en hou ‘n sendingkantoor in stand. Hierdie kantoor verskaf aan al die kerke in die GKSA inligting oor sendingwerk, met die doel om te ondersteun en toe te rus. Die sendingkantoor help die Sendingdeputate in die uitvoer van hul mandaat. Die Algemene Sinode stel fondse vir die funksionering van hierdie sendingkantoor beskikbaar. Omdat die kantoor finansiële implikasies het, moet
die deputate ander moontlikhede ondersoek in samewerking met die deputate kerkgroei (Expando).
12.4 Toerustingsmateriaal
In samewerking met Expando, stel die Sendingdeputate toerustingsmateriaal aan plaaslike kerke beskikbaar sodat die plaaslike kerke hul verantwoordelikheid kan nakom. Die sendingkantoor bring ‘n databasis op die been wat uit Bybelse, Gereformeerde materiaal saamgestel word.
12.5 Toerusting
In samewerking met Expando adviseer die Deputate kerke en meerdere vergaderings insake die opleiding van sendelinge en sendingwerkers.
12.6 Sendingkonferensies
In samewerking met Expando organiseer die Deputate gereelde kursusse en sendingkonferensies om plaaslike kerke, lidmate en leiers in die GKSA te ondersteun en te motiveer om die sendingopdrag wat die Here Jesus Christus aan ons gegee het, effektief uit te leef.
